Choose Language

Om goeie konsentrasievaardighede by ‘n kind te ontwikkel.

Julie 22, 2020

Elke ouer en onderwyser raak dikwels bekommerd oor ‘n kind se konsentrasievaardighede. Kan my kind lank genoeg konsentreer om ‘n taak in ‘n gepaste tyd te voltooi? Ek is seker elke ouer en onderwyser wil hê hulle kinders moet goeie konsentrasievaardighede ontwikkel.

Concentration is a part of life. It is not the consequence of a method of education.

-Maria Montessori

HOE LANK KAN MY KIND KONSENTREER?

Eenjarige – een minuut

Tweejarige – twee minute

Driejarige – drie minute

Vierjarige – vier minute

Vyfjarige en ouer (vyf minute word by die kind se ouderdom gevoeg)

Vyfjarige – 10 minute

Sesjarige – 11 minute

Jy dink dalk – jou kind kan gewoontlik baie lank TV kyk, maar nie opdragte voltooi in ‘n gepaste tyd nie of hulle aandag word maklik afgetrek! Jy wonder dalk – hoekom?

Konsentrasietye is die aktiewe leertyd wat ‘n kind gebruik om vaardighede te verg en nie moed op te gee wanneer ‘n opdrag voltooi moet word nie. ‘n Kind moet eers selfdissipline en impulsbeheer  hê voordat hulle konsentrasievaardighede kan aanleer.

Selfdissipline

IMPULSBEHEER

Dit is gedagtes wat lei tot gedrag.

Leer vir jou kind dit op ‘n kreatiewe manier aan om sy impulse te beheer – die vermoë om te stop en te wag.

  • Laat jou kind eerder self kalmeer as wat jy betrokke raak en dit vererger.
  • Afkoeltyd is baie belangrik!
  • Jy moet ferm en konsekwent optree.

Wanneer jy met jou kind probeer praat aanvaar jou kind, maar stel dit baie duidelik dat die gedrag onaanvaarbaar is. Hulle moet leer hoe om hulle emosies uit te druk en te beheer.

Krakies in die ontwikkeling van impulsbeheer
  • Kind toon aggressiewe gedrag teenoor ander.
  • Maak ander maats seer, sonder om te dink.
  • Maak homself seer.
  • Hulle breek maklik goed.
  • Steel kompulsief.
Hier is ‘n oulike aktiwiteit wat impulsbeheer kan aanleer.
Robotspeletjie

Gebruik jou tyd in die kar om oor die verkeersligte te praat en hoe elke kleur iets anders beteken. Wanneer jou kind verstaan rooi beteken STOP, groen RY en orange STADIGER, kan jy dit by die huis gebruik en doen met jou kind. Sny sirkels uit gekleurde karton en gaan speel die robotspeletjie buite. Sy kan hardloop of op haar driewiel ry. Wys vir haar groen en sê: “Ry!” Wys dan orange en sê: “Ry stadiger!” Rooi beteken Stop!

Konsentrasie is wanneer jy ‘n taak aanpak en dit binne ‘n gegewe tyd en spesifikasie kan voltooi.

Daar is daaglikse geleenthede wat jy kan gebruik om jou kind se aandagspan, konsentrasie en impulsbeheer kan bevorder:
  • Tel jou klere op voor jy gaan TV kyk!
  • As jy legkaart wil bou, moet jy hom klaar bou en voltooi.
  • Borsel jou tande voor jy in die bed klim!
  • As jy jou speelgoedboks omdop, moet jy weer dit reg pak en opruim.

Jy moet kort opdragte aan jou kind gee, omdat hulle ‘n kort aandagspan het. Jou kind moet een ding op ‘n slag doen en dan kan jy die geleidelik vermeerder deur meer takies te gee. Vra ook altyd jou kind om die opdrag te herhaal, sodat jy weet hulle verstaan wat daar verwag word van hulle en dat hulle die opdrag sal onthou.

Groepspeletjies, opvoedkundige speelgoed en gestruktureerde aktiwiteite kan jou kind se konsenstrasievaardighede ook ontwikkel. As jou kind dalk nogsteeds sukkel om te konsentreer, verwag jy dalk nie te veel van hom nie?

Wat kan jou kind se konsentrasie beïnvloed?
  • Emosionele probleme.

Maak tyd vir jou kind en praat met hom. Hulle moet jou vertrou met enige probleme wat opduik in hulle lewe, as die probleme voortduur het jy dalk professionele hulp nodig.

  • Onvoldoende slaap/moegheid.

Elke kind moet tenminste 8 ure ‘n aand slaap om genoeg rus in te kry. Dit speel ‘n groot rol om te kan konsentreer en fokus by die skool.

  • Dieet

As ‘n kind honger is kan hulle nie konsentreer. Hulle moet die regte hoeveelheid kos inneem. Hulle moet ‘n gebalanseerde dieet volg.

  • Hiperaktiwiteit

‘n Kind onder die ouderdom sewe wat nie kan stil sit nie, aan alles vat en gedurig rond beweeg is nie hiperaktief nie! Hulle is maar net ‘n besige voorskoolse kind wat nuuskierig is en alles wil ontdek.

  • Dissipline

Daar moet dissipline aan ‘n kind gegee word wat swak konsentrasie het. Dit is nie om hulle te straf nie, maar om hulle te leer watter gedrag aanvaarbaar is en watter nie.

DIE VOLGENDE AKTIWITEITE KAN HELP OM KONSENTRASIEVAARDIGHEDE TE BEVORDER:

  • Teken

Laat jou kind so lank teken as wat hy kan en gebruik een papier hiervoor.


  • Inkleur

Baie van die kinders raak vinnig gefrustreerd met inkleur werk en wil dit aframmel. Ons moet inkleur werk by kinders interessant en kreatief maak, sodat hulle wil inkleur! Begin altyd eers by ‘n groot eenvoudige prent en dan kan julle na kleiner prentjies toe beweeg.

  • Knipwerk

Begin by tydskrifte. Laat jou kind eers prentjies uit ‘n tydskrif knip wat dalk almal oor dieselfde tema handel. Hulle kan dan ‘n “collage” maak. Skeur eers die bladsy uit die tydskrif en laat jou kind dit uitknip.Teken vir jou kind ‘n raam om die prentjie soos ‘n vierkant of reghoek en hulle moet op die lyn uitknip. Dit maak dit ook maklik vir die kind om ‘n “collage” te maak. Moedig jou kind aan om te konsentreer en te fokus!


  • Sortering

Sorteer verskillende voorwerpe in groepe soos vorms, kleure, skoene, diere en karretjies.

  • Boeke

Lees ‘n oulike storie vir jou kind. Bespreek die prente in die storie. Hulle kan self voorspel wat gebeur aan die einde van die storie, voor jy die boek klaar gelees het. Laat jou kind die storie terug vertel aan jou. Hulle moet mooi oplet en konsentreer om die storie in volgorde te kan terug vertel.

  • Rangskik

Rangskik voorwerpe in hulle regte groepe soos al die vrugte bymekaar, groente bymekaar. Begin eers met twee voorwerpe. Vermeeder dit geleidelik deur meer voorwerpe aan jou kind te gee.

  • Rygwerk

Rygwerk is ook ‘n baie goeie oefening om konsentrasie te ontwikkel. Hulle moet mooi konsentreer om die wol deur die gaatjie te druk of om krale te ryg. Rygwerk oefen ook oog-hand koördinasie en fynmotoriese vaardighede.


Nog ‘n oulike aktiwiteit wat rygwerk interessant kan maak is om pypskoonmakers en ringetjie pap te gebruik om te ryg.

  • Legkaart

Kies vir jou kind ‘n ouderdomgepaste legkaart om te bou. Laat jou kind altyd by die raam van die legkaart begin. Moedig jou kind aan om die legkaart klaar te bou en om nie op te gee nie.

  • Jenga

Speel Jenga saam jou kind. Dit is ‘n baie lekker speletjie wat hulle geniet. Laat jou kind Jenga bou en speel dit dan saam. Hulle moet fokus en konsentreer dat die houtstawe nie val as hulle een uit haal nie. Dit laat jou kind ook toe om te dink en planne te beraam.

Dis nie die resultaat wat tel nie, maar die ervaring.

Dit is goed om daagliks te probeer om jou kind se konsentrasievaardighede te ontwikkel en te bevorder. Dit is dan baie makliker in die toekoms, sodat hulle werk onafhanklik kan voltooi binne ‘n gepaste tyd. Hulle moet aanhou probeer en nooit opgee nie!

Onafhanklikheid moet jou doelwit wees wanneer jy jou kind grootmaak.

2-antwoorde

Maak 'n opvolg-bydrae

Sluit nou aan en kry die nuutste plasings.

Maandeliks

R 95 1 x Maand
  • Toegang tot nuutste plasings
  • Toegang tot argiewe
  • Ontvang nuusbrief

Jaarliks

R 950 1 x Jaar
  • Toegang tot nuutste plasings
  • Toegang tot argiewe
  • Ontvang nuusbrief